Wednesday 6 June 2012

Zuma Spear & SA Dankfees

Zuma Spear!

Wat dink jy daarvan?
Waarvan?

Ek praat natuurlik van die “Zuma Spear” wat nou heellaas verwyder is van die City Press webblad en die kunstenaar Brett Murray wat onder eed verklaar het “Ek wil graag sê dat ek ‘n trotse Suid-Afrikaner en voormalige ondersteuner van die ANC is. Ek is nie ‘n rassis nie”.
Wel Mnr. Murray, ek weet nie wat jy wou bereik nie, maar jy kan mos nie ons President so ontbloot nie?  Vir reklame kon dit nie wees nie, want ons as gewone mense sal nou net verder kan lees oor die “spear” en slegs wonder oor die werklike punt van al die belangstelling.

SA Dankfees 2012
Soos seker meeste Suid-Afrikaners, is daar gou na ons dapper aankoms in Engeland besef dat dié ‘n vreemde land met vreemde mense en nog vreemder gewoontes is.  Ons het onsself in Oos-Oos London bevind, smaak my vêr verby Pella se gat, waar daar meer uitlanders as Engelse woon. Van die nasies het ek nog nooit self gesien nie en ons het vining besef dat ons ‘n plan sal moet maak om tussen ons eie mense te kom, want so ‘n vreemde besigheid kan nie goed vir ‘n mens wees nie.

Vroeg een oggend op die trein hoor ons toe ons taal, saggies agter ‘n Metro gefluister en toe die koerantjie later sak, sien ons van ons dam se ganse - Ons staan mos uit! Daai oggend hoor ons toe van die Dankfees en die datum is koorsig neergeskryf.  Dit was gelukkig net ‘n paar weke weg en ons kon nie wag om te sien waaroor al die opwinding gaan nie, min het ons geweet wat se invloed dié dag op ons sou hê.
Daai Saterdagoggend met die aanry na die hekke is ons begroet met ‘n see van tente en vriendelike gesigte.  Daar was hordes mense en almal groet mekaar soos ou bekendes. Dit was soos ons bezaar op Vredenburg en ek het amper begin uitkyk vir Oom Bunny met sy dra-stem.  Maar dié bezaar was op ‘n baie groter skaal.  Ons musiek het gespeel en ons taal is gepraat en gou is daar nuwe vriende gemaak.  Saam is daar om die tafeltjies gesit en gesels en lekker geëet aan al die lekker kos, dit terwyl  braaivleis geure die lug vul. Ons was nou deel van ‘n SA gemeenskap, ‘n gesin vêr van die huis af en net die kennis daarvan, kon die donker maande maar laat kom, die treine met die stom vreemdes wat agter hul boeke skuil en al die reën.

Wel die Dankfees is nou amper hier en vanaf  8 – 10 Junie sal ons weer op die Hop Farm wees.  Dié jaar beloof om nog groter as tevore te wees.  Daar is ‘n buzzzz onder die mense, want nie net gaan daar groot kunstenaars wees nie, maar die weer lyk of dit ook gaan saamspeel.
Daar word weer vanaf die Vrydagaand tot die Sondag gekamp, wanneer die gemeenstes  as ‘n groep saamkom en onder begeleiding van die groep Profet, die fees sal afluit. Die Saterdag sal weer gevul wees met verskeie aktiwiteite vir die jongspan (sien webblad vir ‘n volledige lys), terwyl die ouers kans sal kry om te kuier en die koskaste te vul.

Jakob Deist en Pieter Dorfling sal deur die dag mense met hul musiek vermaak en in die aand is daar ‘n Dankfees vertoning waar Kurt Darren en Pieter Smith mens die kans sal gee om bietjie stof op te skop, tot laatnag.

So tussen ons, die kaartjies is reeds beskikbaar by http://www.sagemeente.com/, en myne is klaar bestel om die toue te vermy.

So kom en geniet huis op die Hop Farm. My drie hare staan al regop van al die opwinding, ek kan nie meer wag nie!


No comments: