Sunday 30 October 2011

I am Published - Dronkste in die Wêreld!

To describe my excitement at the moment is impossible.  I have just read my story in the online newspaper as per my website www.conradbrand.com. and I post it here to share with my friends all over the world.  I know it's in Afrikaans, but hopefully next time an English contribution from me will be published.

The Newspaper is a new initiative for the local West Coast Community in South Africa, called Weskus Onbeperk and they can be found at http://www.weskus-onbeperk.co.za/

Dronkste in die wêreld!

Ek lees met gees die stuk oor die dronkste man in die Wes-Kaap wat laasweek in Saldanha vasgetrek is.

Dit laat my dink aan ‘n ou vrind wat darem sy beste gedoen het om  vir dieselfde erkenning in aanmerking te kom, indien nie om dit loshande te wen nie.

Dit was bietjie meer as tien jaar gelede in Kaapstad, toe mens nog saans kon rondloop in die strate, sorgeloos kon daar na ‘n aandjie uit en ‘n sopie of twee, rustig vanuit die middestap gestap word na die koshuis onder die Berg.  Die bergies wat nog wakker was, sou jou vriendelik dog plegtig pla om daai laaste los sentjies in jou sak, vir môre se halwe broodjie.  Min wetende sou meeste gee, maar daai broodjie-geld vir die dun lagie kos in sy maag, sou ‘n ander weg na binne vind.  Op die Parade moes jy eers stop om ‘n opslagte hongerte te stil, met ‘n ”Mama’s pie” en ‘n Rennie,  afgesluk met ‘n pienk melkie.

Sommige was meer bevoorreg as ander en het ouma of oupa se ryding geërf, iets wat direk aan jou populariteit gekoppel is, en dis toe hier waar Gysie se moeilikheid begin.

Gysie was die aangewese drywer vir die aand, maar dié word toe dors, sò dors dat hy heeltemal van sy amp en verpligtinge vergeet.  Na sy “pie” en Rennie, maak Gysie hom toe gereed vir die finale been tot sy huiswaartse tog.  Ai, maar Gysie kon mos nie saggies nie, hy moes nou hardop kommentaar lewer op al die stemme van die nag tot by sy bruin Datsuntjie.  Na ‘n vinnige gevroetel na sy moerse “Mamma is lief vir jou”  sleutelhouer, is hy binne en nes hy die “clutch” bietjie vinnig laat val, druk druk Oom verkeersman so teen sy ruit.

“En waarheen is U oppad Meneer?”vra die beampte.

“Ma’ bed toe, ek is mos moeg!” antwoord hy met ‘n lelike sleur in sy stem.

“Het jy iets gedrink vanaand Meneer?” kom die vraag van onder die hoed.

“Nie regtig nie, net so enetjie of twee miskien”, antwoord Gysie met die wete dat sy lot hier geboek is.

“Mmm liters ja”, mompel die beampte deur sy snor. “Klim maar uit Meneer en blaas vir my mooi in die pypie” sê die man met die onding in sy uitgestrekte hand.

Na ‘n gesukkel is Gysie uit en met die vars lug na sy brein beleef hy toe ‘n oomblik van helderheid.  

“Meneer, blaas hard en aanhoudend tot ek sê: Stop!” sê die beampte, so met die aangee.

“Is dié ding skoon?” vra Gysie terwyl hy die dingetjie na sy mond bring.

“Jong, blaas net!” word hy toegesnou, “jy’s verniet so traag.”

Met dié gooi Gysie sy kop agteroor en mond wawyd oop,  soos ‘n wilde gans blaas hy toe met oorgawe deur sy neus….  Nnnfffffff…  en weer, lank  en aanhoudend,  Nnnfffffff…

Die volgende dag is ons met smaak vertel hoe Gysie deur ‘n verkeersbeampte na die koshuis gebring is, hoed in die hand en arm om die blad.  Die arme man het glo so gelag vir Gysie se belaglikheid dat hy hom moes laat gaan;  wie kon dan suur bly na so ‘n vindingryke vertoning!