Tuesday, 15 November 2011

Hallo-ween


Maandagaand (31.10.11) was weer Halloween, die aand waar daar wêreldwyd  met kindertjies tot laatnag rondgeloop is, van huis tot huis opsoek na ‘n lekkertjie, selfs vir die ouer wat die moeite gedoen het om saam te loop.  Skaars fondse is gestroop vir Dracula-tanne, Heks-neuse, hoede, man enige aaklige vermomming om jou soos iets uit die dood te laat lyk, sommiges het dit nie eers nodig gehad nie, foeitog!

 Halloween is nie iets waarmee ons groot geword het nie;  dit was maar ‘n dag soos enige ander.  ‘n Gewonde dag waar die enigste skok wat jy dalk kon verwag, die felheid van die rooiaas-koppe wat lê en ryp raak op die strand.  Ons trek toe na Engeland en moes vinnig aan al dié goed gewoond raak, Halloween, Guy Fox, Diwalli ensovoorts.  Hier voel dit my skiet hulle klappers met elke geleentheid wat hom voordoen;  hulle sal seker dieselfde sê oor ons braaiery.

Die eerste aand was ons heeltemal onverwags gevang.  Die klokkie het gelui en voor my staan toe ‘n knie-hoë feetjie, met haar boeta in die agtergrond, ‘n mengsel van Dracula en die Frankenstein monster.  Verleë moes ons hulle wegstuur en sê “Jammer, maar Oom en Tannie ken nie dié goed nie” als in Engels natuurlik.  Die situasie het vererger soos dit later word, want een na die ander en soos die tyd aanstap, het die kindertjies voor die deur, ouer en groter geword.  Die laaste klop aan my deur was ‘n snuiter met ‘n kappie (‘n “Job of “Hoodie” het ek later geleer) met sy maats wat halfgat oor my muurtjie hang.

Ek is begroet met “Jo!” met sy armpies wat lyk of dit na iets gryp.

“Jeees?” vra ek toe mooi, soos ons geleer is.

“Trick or Treat innit” sê die mannetjie en kyk my aan met groot oë. 

“Wat sê die mannetjie hier?

En soos gewoonlik moes Madél toe inspring, want die staar tussen my en boeta raak toe te lank en ongemaklik.  Sy lippie het begin bewe, foeitog dit was seker sy eerste kennismaking met ‘n Suid-Afikaanse man.

Die dag daarna is ons vertel hoe gelukkig ons was dat ons huis nie met meel en eiers bemors is nie. Dis glo wat op jou wag as jou “Treats” nie na wense is nie.  Ek glo maar dat hulle die nuwe intrekers ‘n kans wou gee, veral daai groot rooie met die Germaanse aksent, want dié kon enige “Treat” in ‘n “Trick” verander.
Nou is ons jaarlikse ritueel om die ligte af te skakel en te hoop die “monsters van die nag” hou verby, maar vir die verdwaalde enetjie wat wel klop, hou ons ‘n ou suuuur lekkertjie gereed, die perfekte kompliment vir die aand…
                                                                                                                                                                © 2011 Conrad Brand

Sunday, 30 October 2011

I am Published - Dronkste in die Wêreld!

To describe my excitement at the moment is impossible.  I have just read my story in the online newspaper as per my website www.conradbrand.com. and I post it here to share with my friends all over the world.  I know it's in Afrikaans, but hopefully next time an English contribution from me will be published.

The Newspaper is a new initiative for the local West Coast Community in South Africa, called Weskus Onbeperk and they can be found at http://www.weskus-onbeperk.co.za/

Dronkste in die wêreld!

Ek lees met gees die stuk oor die dronkste man in die Wes-Kaap wat laasweek in Saldanha vasgetrek is.

Dit laat my dink aan ‘n ou vrind wat darem sy beste gedoen het om  vir dieselfde erkenning in aanmerking te kom, indien nie om dit loshande te wen nie.

Dit was bietjie meer as tien jaar gelede in Kaapstad, toe mens nog saans kon rondloop in die strate, sorgeloos kon daar na ‘n aandjie uit en ‘n sopie of twee, rustig vanuit die middestap gestap word na die koshuis onder die Berg.  Die bergies wat nog wakker was, sou jou vriendelik dog plegtig pla om daai laaste los sentjies in jou sak, vir môre se halwe broodjie.  Min wetende sou meeste gee, maar daai broodjie-geld vir die dun lagie kos in sy maag, sou ‘n ander weg na binne vind.  Op die Parade moes jy eers stop om ‘n opslagte hongerte te stil, met ‘n ”Mama’s pie” en ‘n Rennie,  afgesluk met ‘n pienk melkie.

Sommige was meer bevoorreg as ander en het ouma of oupa se ryding geërf, iets wat direk aan jou populariteit gekoppel is, en dis toe hier waar Gysie se moeilikheid begin.

Gysie was die aangewese drywer vir die aand, maar dié word toe dors, sò dors dat hy heeltemal van sy amp en verpligtinge vergeet.  Na sy “pie” en Rennie, maak Gysie hom toe gereed vir die finale been tot sy huiswaartse tog.  Ai, maar Gysie kon mos nie saggies nie, hy moes nou hardop kommentaar lewer op al die stemme van die nag tot by sy bruin Datsuntjie.  Na ‘n vinnige gevroetel na sy moerse “Mamma is lief vir jou”  sleutelhouer, is hy binne en nes hy die “clutch” bietjie vinnig laat val, druk druk Oom verkeersman so teen sy ruit.

“En waarheen is U oppad Meneer?”vra die beampte.

“Ma’ bed toe, ek is mos moeg!” antwoord hy met ‘n lelike sleur in sy stem.

“Het jy iets gedrink vanaand Meneer?” kom die vraag van onder die hoed.

“Nie regtig nie, net so enetjie of twee miskien”, antwoord Gysie met die wete dat sy lot hier geboek is.

“Mmm liters ja”, mompel die beampte deur sy snor. “Klim maar uit Meneer en blaas vir my mooi in die pypie” sê die man met die onding in sy uitgestrekte hand.

Na ‘n gesukkel is Gysie uit en met die vars lug na sy brein beleef hy toe ‘n oomblik van helderheid.  

“Meneer, blaas hard en aanhoudend tot ek sê: Stop!” sê die beampte, so met die aangee.

“Is dié ding skoon?” vra Gysie terwyl hy die dingetjie na sy mond bring.

“Jong, blaas net!” word hy toegesnou, “jy’s verniet so traag.”

Met dié gooi Gysie sy kop agteroor en mond wawyd oop,  soos ‘n wilde gans blaas hy toe met oorgawe deur sy neus….  Nnnfffffff…  en weer, lank  en aanhoudend,  Nnnfffffff…

Die volgende dag is ons met smaak vertel hoe Gysie deur ‘n verkeersbeampte na die koshuis gebring is, hoed in die hand en arm om die blad.  Die arme man het glo so gelag vir Gysie se belaglikheid dat hy hom moes laat gaan;  wie kon dan suur bly na so ‘n vindingryke vertoning!