Maandagaand (31.10.11) was weer Halloween, die aand waar daar wêreldwyd met kindertjies tot laatnag rondgeloop is, van huis tot huis opsoek na ‘n lekkertjie, selfs vir die ouer wat die moeite gedoen het om saam te loop. Skaars fondse is gestroop vir Dracula-tanne, Heks-neuse, hoede, man enige aaklige vermomming om jou soos iets uit die dood te laat lyk, sommiges het dit nie eers nodig gehad nie, foeitog!
Halloween is nie iets waarmee ons groot geword het nie; dit was maar ‘n dag soos enige ander. ‘n Gewonde dag waar die enigste skok wat jy dalk kon verwag, die felheid van die rooiaas-koppe wat lê en ryp raak op die strand. Ons trek toe na Engeland en moes vinnig aan al dié goed gewoond raak, Halloween, Guy Fox, Diwalli ensovoorts. Hier voel dit my skiet hulle klappers met elke geleentheid wat hom voordoen; hulle sal seker dieselfde sê oor ons braaiery.
Die eerste aand was ons heeltemal onverwags gevang. Die klokkie het gelui en voor my staan toe ‘n knie-hoë feetjie, met haar boeta in die agtergrond, ‘n mengsel van Dracula en die Frankenstein monster. Verleë moes ons hulle wegstuur en sê “Jammer, maar Oom en Tannie ken nie dié goed nie” als in Engels natuurlik. Die situasie het vererger soos dit later word, want een na die ander en soos die tyd aanstap, het die kindertjies voor die deur, ouer en groter geword. Die laaste klop aan my deur was ‘n snuiter met ‘n kappie (‘n “Job of “Hoodie” het ek later geleer) met sy maats wat halfgat oor my muurtjie hang.
Ek is begroet met “Jo!” met sy armpies wat lyk of dit na iets gryp.
“Jeees?” vra ek toe mooi, soos ons geleer is.
“Trick or Treat innit” sê die mannetjie en kyk my aan met groot oë.
“Wat sê die mannetjie hier?
En soos gewoonlik moes Madél toe inspring, want die staar tussen my en boeta raak toe te lank en ongemaklik. Sy lippie het begin bewe, foeitog dit was seker sy eerste kennismaking met ‘n Suid-Afikaanse man.
Die dag daarna is ons vertel hoe gelukkig ons was dat ons huis nie met meel en eiers bemors is nie. Dis glo wat op jou wag as jou “Treats” nie na wense is nie. Ek glo maar dat hulle die nuwe intrekers ‘n kans wou gee, veral daai groot rooie met die Germaanse aksent, want dié kon enige “Treat” in ‘n “Trick” verander.
Nou is ons jaarlikse ritueel om die ligte af te skakel en te hoop die “monsters van die nag” hou verby, maar vir die verdwaalde enetjie wat wel klop, hou ons ‘n ou suuuur lekkertjie gereed, die perfekte kompliment vir die aand…
© 2011 Conrad Brand